DAAGLIKSE DISSIPEL DINAMIKA

Posted in: Uncategorized | By

Meer as 80% van dinge wat mense vrees, gebeur nooit nie. Die mens is nou maar eenmaal ʼn vrees-like ding! Bekommerd oor alles, vrees die ergste, byt naels, kry maagsere, ens. Jesus het dit verstaan, en daarom het Hy sy dissipels geleer om oor niks anders bekommerd te wees as oor God se Koninkryk nie.
Paulus bring dieselfde gedagte op wanneer hy in sy brief die gemeente in Filippi bemoedig:
Fil. 4:6 “Moet oor niks bekommerd wees nie [moet jouself nie heeltyd kommer oor alles nie, moenie rondloop met ʼn ingesteldheid wat heeltyd die negatiewe of ʼn slegte uitkoms verwag nie]”
En dan gee hy die goeie aanbeveling hoe om bekommernis en negatiewe gedagtes te oorkom:
“Maar in alles [binne in elke situasie waarin jy gewoonlik bekommerd sou raak, en die ergste sou verwag] maak jou versoeke aan God bekend op die volgende manier:
• Deur gebed [deur met God daaroor te praat en Hom te vertel van jou vrese en emosie]
• Deur smeking [deur petisie, deur God te smeek vir nuwe insig om die situasie vanuit Sy perspektief te sien en te beleef, deur ernstig daaroor te pleit, soos jy pleit in diepe nood]
• Saam met danksegging [deur jou gesprek met die Here en jou pleit voor Hom te meng met dank en waardering vir die seën wat jy reeds ontvang, en nog gaan ontvang, en waardering vir al die voordele wat jy vanuit jou verhouding met Hom beleef.]”
Hierdie stukkie raad is betroubaar. Gebruik dit gerus wanneer jy weer sit en kommer oor die kinders wat nog nie tuis is nie, jou man wat nog op pad is, jou vennoot wat jou bedrieg, of die finansiële druk wat jou maag op ʼn knop trek.

Posted in: Uncategorized

Comments

Be the first to comment.

Leave a Reply